Planete in astrologie

Met planete in astrologie is voor die moderne tyd uitsluitend die 7 klassieke planete uit die astrologie bedoel. Die hemelliggame wat deur die ou Babiloniërs met die blote oog gesien kon word, is: Son, Maan, Mercurius, Venus, Mars, Jupiter en Saturnus. Die Son en Maan is toe in die astrologie ook as planete beskou. Met die ontwikkeling van al hoe sterker teleskope is nuwe planete verder as Saturnus ontdek. Dié "transsaturnale planete" is Uranus, Neptunus en die dwergplaneet Pluto.

Van links: Mercurius-Venus-Aarde-Mars-Jupiter-Saturnus-Uranus-Neptunus

Vir die astroloë uit die oudheid, wat die "swerwers" aan die hemelruim waargeneem het, het die planete die wil van die gode verteenwoordig. Hulle het, nes in ander vorme van waarsêery, probeer om tekens aan die hemel te vind van dinge wat op aarde sou gebeur. Hierdie gebeurtenisse, soos sons- en maansverduisterings, het hulle dan in verband gebring met die lot van hul land en hul heerser. Vir moderne astroloë verteenwoordig die planete eerder dryfvere en impulse van die menslike psige. Die plek van die planete in die astrologie stem ooreen met hul plek aan die hemelruim (in die Diereriem), waarvan die twaalf huise die lewensgebiede verteenwoordig waarop hierdie gebeurtenisse sou plaasvind of waarop hierdie dryfvere uiting sou vind. Ook die hoeke van die planete met betrekking tot mekaar, die aspekte, gee die astroloog aanwysings oor energieë wat saamwerk of mekaar teenwerk.


Developed by StudentB